Fokusareas

Die fokusareas van die Stigting is die volgende:

  • die bewaring van die Nederlandse kultuurerfenis in Suid-Afrika;

  • die versterking van kulturele bande tussen Nederland en Suid-Afrika;

  • die bevordering van die belange van Nederlandse of Suid-Afrikaanse verenigings en ander organisasies of persone, met doelstellings wat ooreenstem met dié van die Stigting;

  • die toekenning van beurse en stipendia vir toepaslike studie aan Suid-Afrikaanse universiteite en ander instansies vir hoër onderwys, navorsing wat pas binne bogenoemde doelstellings asook aan studente van resente Nederlandse afkoms;

  • die toekenning van ’n prestasieprys aan ’n persoon of instansie wat gepresteer het op ’n terrein of terreine wat binne die raamwerk van die doeleindes van die Stigting val en

  • die onderskraging van behoeftige, bejaarde Nederlanders wat in Suid-Afrika woon (maatskaplike toekennings).

Kategorieë

Kulturele toekennings

Instellings en organisasies wat gereeld deur die Stigting ondersteun word, sluit in: die Nederlandse Bibliotheek in die SASNEV-gebou in Pinelands, die Nederlandse maandblad Zuid-Afrika, die Stigting VOC, die Stichting Nederlandse School te Kaapstad en die Nederlandse komponent van die Woordfees van die Universiteit van Stellenbosch. Ander organisasies wat reeds skenkings ontvang het, sluit in: die Libertas-koor, die Tracing History Trust, die Neerlandistiek-komponent van LitNet en die SA Instituut in Nederland. Die Afrikaanse leerstoel by die Universiteit van Amsterdam word deur die Stigting gesubsidieer. Die Stigting help dikwels met vlugkoste wanneer musici aan meesterklasse in Nederland gaan deelneem of wanneer navorsers na Nederland reis vir projeknavorsing. By verskeie geleenthede is die reis- en verblyfkoste betaal van ’n Nederlandse dirigent en Nederlandse musici wat deel was van die programme van die Kaapse Filharmoniese Orkes. Steun word ook gereeld verleen wanneer Nederlandse gassprekers na plaaslike konferensies genooi word of wanneer Nederlandse kundiges deelneem aan projekte in Suid-Afrika.

Talle ander organisasies het al baat gevind by die Stigting. Die Genootskap Nederland-Suid-Afrika is oor die jare gehelp om groepsbesoeke moontlik te maak van Nederlandse studente aan Suid-Afrika, en omgekeerd. Aan die destydse Suid-Afrikaanse Biblioteek (tans die Nasionale Biblioteek, Kaapstad) is geld beskikbaar gestel vir die restourasie van waardevolle Nederlandse boeke in sy Van Dessin-versameling. Toe die Koninklijke Bibliotheek in Den Haag mikrofilmkameras vir die verfilming van Suid-Afrikaanse koerante aan die Suid-Afrikaanse Biblioteek geskenk het, het die Stigting ingestaan vir die vervoer daarvan na Kaapstad. Die ZASM-Gedenkhuis in Pretoria is gedeeltelik met fondse van die Stigting gerestoureer. Aan die Nederlands Cultuurhistorisch Instituut by die Universiteit van Pretoria is gereeld bydraes gemaak vir die aankoop van Nederlandse boeke. Die publikasie van tientalle besondere boeke is ook in die verlede deur die Stigting moontlik gemaak. Hieronder ressorteer Dan Sleigh se Die buiteposte, die Codex Witsinii wat deur Iziko-Museums gepubliseer is, verskillende boeke deur Karel Schoeman en vertalings van Afrikaanse boeke in Nederlands.

Hierdie opsomming is nie naastenby volledig nie, maar wil slegs ’n indruk bied van die bydraes wat die Van Ewijck-Stiging die afgelope dekades gelewer het om die kulturele verbintenisse tussen Nederland en Suid-Afrika te bewaar en te bevorder. Die werksaamhede van die Stigting is ’n huldeblyk aan die nagedagtenis van mnr. en mev. Van Ewijck wat met hulle visionêre blik – en ruim erflating – alles moontlik gemaak het.

Aansoeke moet gerig word aan:

Die Sekretaris
Van Ewijck-Stigting
Vir aandag me René Uys

vanewijck@uysandkie.co.za

Telefoon: 021 913 1399
Kantoorure: Maandag tot Donderdag 09h00 tot 16h00
& Vrydag 09h00 tot 14h00

Toekennings: Beurse en stipendia

Die Van Ewijck-Stigting verskaf beurse en stipendia aan voorgraadse en nagraadse studente van Nederlandse afkoms, of studente wat in die Nederlandse taal-, letterkunde of kultuurgeskiedenis studeer. Met studente van Nederlandse afkoms word bedoel persone van wie ten minste die vader of moeder in Nederland gebore is, bewysbaar deur ’n paspoort of geboortesertifikaat. Persone wat akademiese navorsing onderneem met ’n Nederlandse verbintenis kom ook in aanmerking. Hierdie navorsing of nagraadse studie sluit ook studies in aan Nederlandse universiteite of goedgekeurde Nederlandse instellings. Van suksesvolle aansoekers word sekere stawende dokumente verwag voordat uitbetalings gemaak word, byvoorbeeld bewys van registrasie of bewys van uitnodiging deur of aanvaarding by ’n Nederlandse universiteit of instelling. Die sluitingsdatum vir aansoeke vir die volgende kalenderjaar is 15 November. Tussentydse aansoeke word soms ook oorweeg.

Maak gebruik van die aansoekvorm op die webblad of tree in verbinding met:

Die Sekretaris
Van Ewijck-Stigting
Vir aandag me René Uys

vanewijck@uysandkie.co.za

Telefoon: 021 913 1399
Kantoorure: Maandag tot Donderdag 09h00 tot 16h00
& Vrydag 09h00 tot 14h00

Toekennings: Maatskaplik

Die Maatskaplike Komitee van die Van Ewijck-Stigting voorsien finansiële en praktiese steun, asook maatskaplike advies, aan veral bejaarde persone van Nederlandse afkoms woonagtig in die Wes-Kaap, wat weens omstandighede buite hulle beheer finansieel swaar kry.

Hulpverlening kan op ’n gereelde of ad hoc-basis plaasvind.

’n Geregistreerde maatskaplike werker evalueer elke aansoeker se maatskaplike en finansiële omstandighede en maak ’n aanbeveling aan die Raad.

Aansoeke moet gerig word aan:

Die Sekretaris
Van Ewijck-Stigting
Vir aandag me René Uys

vanewijck@uysandkie.co.za

Telefoon: 021 913 1399
Kantoorure: Maandag tot Donderdag 09h00 tot 16h00
& Vrydag 09h00 tot 14h00

Toekennings: Prestasieprys

Die prestasieprys word toegeken aan ’n persoon of instansie wat gepresteer het op ’n terrein wat binne die raamwerk van die doeleindes van die Stigting val.

Sedert 2003 is die prys aan verskeie instansies toegeken. Daaronder tel die Libertaskoor van Stellenbosch vir kooruitvoerings in Nederland (2004); die Van Riebeeck-vereniging vir die publikasie van talle bronnepublikasies in verband met die Nederlandse bewind aan die Kaap (2005); die Vriende van die Nederlandse Biblioteek, Pinelands, vir die aankoop van nuwe Nederlandstalige boeke (2007); en die TECP-transkripsiegroep vir die digitalisering van VOC-dokumente in die Kaapse Argief (2008). In 2012 is die prys aan die Stigting VOC toegeken, in 2014 aan LitNet, in 2016 aan dr Daniel Hugo en in 2017 aan prof Ena Jansen. Sien verder die nuusafdeling op die tuisblad.

Aansoeke (met motivering) moet jaarliks voor 31 Oktober gerig word aan:

Die Sekretaris
Van Ewijck-Stigting
Vir aandag me René Uys

vanewijck@uysandkie.co.za

Telefoon: 021 913 1399
Kantoorure: Maandag tot Donderdag 09h00 tot 16h00
& Vrydag 09h00 tot 14h00