Piet Westra is deel van die vir Suid-Afrika werklik goue golf van immigrante uit Nederland wat in die eerste dekades ná die Tweede Wêreldoorlog na Suid-Afrika verhuis het. Hierdie mense en hul kinders het ’n onvolprese rol gespeel in die opbou van onder meer ’n moderne infrastruktuur, maar ook op kulturele gebied. As seun van 16 moes Piet homself red in ’n skoolomgewing wat hom allermins vriendelik gesind was. Prof. Gerrit Schutte wys daarop dat hy in die begin nóg Engels nóg Afrikaans geken het. Hy moes homself met dieselfde wilskrag daardeur gedryf het as wat ons aanskou het toe hy as bejaarde met die amputasie van sy een been sowel as sy toenemende doofheid moes omgaan.
As arm, werkende jongman het hy daarin geslaag om ’n meestersgraad in Biblioteekkunde te verwerf aan die Universiteit van Pretoria. Hierop het hy voortgebou totdat hy in 1981 in een van die topposte in die land aangestel is, naamlik Direkteur van die SA Biblioteek in Kaapstad. Dit was ’n pos met groot uitdagings. Hy het gesorg dat die biblioteek internasionaal kon meespreek en dit in ’n uiters moeilike tydperk. ’n Klein voorbeeld van sy wakker blik is die volgende: Toe die Koninklike Biblioteek in Den Haag nuwe kameras gekry het om mikrofiche te maak, het hy hulle byvoorbeeld omgehaal om hul oues wat nog in ’n uitstekende toestand was, Kaap toe te stuur. Hy het navorsingspublikasies deur die biblioteek gestimuleer, insluitende ’n katalogus van alle Nederlandse publikasies oor Suid-Afrika tot en met 1899. Toe kosbare werke van die biblioteek van die Suid-Afrikaanse Instituut op die Keizersgracht in Amsterdam in 1981 deur demonstrante in die grag gegooi is, het hy help sorg dat vervangende eksemplare gevind word. Hy het ook binnelands die Veiligheidspolisie so ver gekry om hom toe te laat dat sogenaamde verbode literatuur oor die land bestel en opgeneem kon word. Hiervoor is die Albie Sachs Prys in 2010 aan hom toegeken.
Die betrekkinge tussen Suid-Afrika en Nederland het vir hom dwarsdeur sy lewe belangrik gebly en hy was betrokke by verskeie organisasies van hierdie aard. Hy was bestuurslid van die Genootskap Nederland Suid-Afrika en ’n medewerker van die destydse blad Die Nederlandse Post.
Ná sy aftrede het hy ’n nis-uitgewery begin wat veral gerig was op historiese onderwerpe waaronder ’n heruitgawe van S.J. du Toit se beroemde roman Di koningin fan Skeba. ’n Stewige lys titels vir so ’n eenmansbedryf bevat onder meer Dan Sleigh se Bokbaai, the Farm and it’s People en Reinier Spreen se Monument vir die kwagga, Afrika se beroemdste uitgestorwe dier. Dit sluit ook eie navorsing deur hom in soos onder meer vervat in sy en Dan Sleigh se boek Die aanslag op die slaweskip Meermin 1786.
Hy was sedert die jare tagtig voorsitter en drywende krag agter die Van Ewijck Stigting, ’n kulturele trust wat destyds danksy ’n erflating opgerig is om kulturele betrekkinge tussen Suid-Afrika en Nederland te bevorder. Dit is vandag ’n finansieel sterk fonds wat hierdie werk op verskeie terreine voortsit. Dit sluit ook in hulp aan behoeftige Nederlandse bejaardes. Ek bring ook vandag graag spesifiek namens die Raad van die Van Ewijck Stigting aan hom hulde.
Toe die borge uit die Lae Lande die Nederlandse Biblioteek, Kaapstad, 15 jaar gelede wou sluit, was hy een van die opstandiges wat gesorg het dat ’n vriendeorganisasie opgerig word om hierdie boekeskat te red. Daarom bestaan hierdie biblioteek vandag steeds voort. Ook namens die Vriende van die Nederlandse Biblioteek bring ek aan hom hulde.
Hy was lank bestuurslid van die Van Riebeeck Vereniging waarmee hy meegewerk het om die voortreflike reeks publikasies van werke oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis voort te sit.
Hy was ’n hoogsbegaafde musikus wat helaas deur omstandighede en werkdrukte nie gegun is om hierdie talent ten volle te ontwikkel nie.
Hiermee het ek sekerlik nog nie al sy kulturele bydraes genoem nie. Dit geld ook die toekennings wat hy oor die jare ontvang het. Die Nederlands Suid-Afrikaanse Vereniging het in 1999 die Van Riebeeck-penning aan hom toegeken en die Nederlandse staat ’n ridderorde in 2008. Ek herhaal graag Dan Sleigh se woorde van ’n tydjie gelede: ’n reuseboom het geval. As vriend, neerlandikus en Suid-Afrikaner kan ek alleen volstaan deur dankie te sê.
(Prof) Wium van Zyl
(Voorsitter)
Sien ook:
https://www.zuidafrikahuis.nl/2022/08/08/in-memoriam-piet-westra/