Die Stigting is in Kaapstad gevestig en bevorder al vir baie jare kulturele bande tussen Nederland en Suid-Afrika. Die trustfonds, in 1978 gestig deur Sippo Johan Van Ewijck van de Bilt (1902-1979), het oor die jare heen bestendig gegroei danksy goeie beleggings op die plaaslike aandelebeurs. Mnr Van Ewijck was ‘n Nederlandse sakeman wat vir ongeveer 40 jaar afwisselend in Suid-Afrika en Nederland gewoon het. Hy het egter ’n besondere liefde vir Suid-Afrika gekoester. Hy en sy vrou, mev. T.T. van Ewijck, was eienaars van onder meer die Binnehuis-winkels in Kaapstad en Somerset-Wes wat gehaltemeubels verkoop het.

Die egpaar Van Ewijck het ‘n waardevolle versameling van blou-en-wit Oosterse porselein, Hollandse silwer-, koper- en glasware, en meubelstukke in Kaapstad opgebou. By die terugkeer van mev. Van Ewijck na Nederland in 1981 is hierdie versamelstukke aan die destydse Suid-Afrikaanse Kultuurhistoriese Museum (tans die Slawelosie en deel van die Iziko-museums) geskenk. Van 1981 tot 2003 is dit in ‘n ruim lokaal op die eerste vloer, bekend as die Hollandse Kamer of die Van Ewijck van de Bilt-Kamer, uitgestal.

Die eerste vergadering van die Raad van Trustees van die Van Ewijck-Stigting is op 3 Maart 1980 gehou. By dié geleentheid was die volgende persone teenwoordig: mnr. H.C. Sandrock (voorsitter, prokureur en vriend van die Van Ewijcks), mev. Van Ewijck, dr. A.J. Böeseken (bekende historikus), mev. M.A. Bax-Botha (kultuurhistorikus) en prof. Roy Pheiffer (hoogleraar in Afrikaanse taalkunde). Mnr. Piet Westra was sedert 1982 ‘n trustee en vanaf 1984 tot 2008 voorsitter van die Raad van Trustees. Hy is in 2008 opgevolg deur prof. Chris van der Merwe. Die huidige voorsitter is prof. Wium van Zyl. Die Raad van Trustees bestaan uit ‘n aantal plaaslike kundiges.